Spin

Vrou by 'n spinwiel

Spin is 'n proses waardeur 'n veseldraad uit wol-, katoen- of sintetiese vesels gedraai word. Die moderne meganiese spinproses het uit die eenvoudige hand- en wielspinproses ontwikkel. Met gevorderde spinmasjiene is dit moontlik om veseldraad met noukeurige afmetings te vervaardig.

Teenswoordig word sintetiese vesels saam met natuurlike vesels soos katoen, vlas en wol gespin om vesels met bepaalde eienskappe te verkry. Spin het betrekking op die produksie van veseldraad met ʼn eenvormige dikte en 'n sekere sterkte. Die draad word deur sowel meganiese as chemiese metodes verkry. Die meganiese spin proses omvat die volgende stappe:

- Ruvesel word uitmekaargetrek en skoongemaak. Die stapelvesel word dan in 'n borselproses (kaard) parallel gelê.

- Die vesels word dan in 'n dik string saamgevat.

- Die vesels word in die lengte ten opsigte van mekaar verplaas deur die string uit te rek (voorspin).

- Ten slotte word die vesels tot ʼn veseldraad gespin.

In die chemiese spin proses word 'n kunsstofoplossing deur klein gaatjies in 'n spinkop gepers en dun draadjies gevorm. In die elementêre spin proses word 'n bondeltjie vesels halfpad uit 'n bondel gewaste skaapwol getrek.

Die vesels word in 'n dik string gedraai terwyl dit ook uitgerek word. Terwyl die string gedraai word, moet voorsorg getref word dat die verbinding met die bondel wol nie verbreek word nie. Hierdie proses is egter onakkuraat en slegs 'n ruwe, ongelyke veseldraad word so verkry. 'n Eenvoudige verbetering is die gebruik van ʼn staaf met 'n hakie. Die bondel wolvesels word met die hakie gehaak en 'n string uitgetrek terwyl die staaf gedraai word.

Hoewel die handspinwiel in ongeveer 1000 v.C. uitgevind is, het dit eers teen die einde van die 13e eeu in Europa bekend geraak. Die eerste praktiese spinmasjien, die Spinning Jenny, is in omstreeks 1764 gebou. Die masjien is met die hand aangedryf en die draad kon gelyktydig op 8 tot 16 spoele gespin word. Samuel Crompton se Mule Jenny het tussen 1774 en 1779 verskyn, en 'n fyn, dun draad kon daarmee gespin word. Hierdie masjien was die voorloper van die selfspinmuil wat in 1825 deur Roberts ontwerp is. Die selfspinmasjien is gebruik om fyn garing uit voorspindraad te spin. Daarvoor is die vesels gerek voordat dit op die spoele gedraai is.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search